Celebrate Atlantis
← All news
Bejaardes vier 50 jaar van Atlantis

Bejaardes vier 50 jaar van Atlantis

Community
Share story:

Vroeër vandeesmaand het talle bejaardes die dag saam deurgebring om 50 jaar van Atlantis se bestaan te vier. Alhoewel die dag gegaan het oor speletjies en eenheid, is die geleentheid ook gebruik vir die bewusmaking van mishandeling van bejaardes.

Gemeenskapsleiers moedig senior burgers aan om meer bewustheid te versprei en uit te kyk vir uitdagings wat bejaardes raak. Martin De Villiers, alombekend as Oom Diffie, was die organiseerder van die dag se aktiwiteite, en sê die dag was gereël om plaaslike seniors te eer vir die pad wat hulle die afgelope 50 jaar gestap het, en om hulle aan te moedig dat daar steeds lewe is ná 60 jaar.

“Net soos ons die senior burgers vier, wil ons ook eer gee aan ons gemeenskap wat al 50 jaar bestaan. Daar het baie gebeur in die laaste 50 jaar, maar daar is ook nog baie om na uit te sien vir die volgende 50 jaar. Ek hoop dat jongmense besef hulle is die toekomstige senior burgers, en dat hulle goeie vrugte sal pluk wanneer dit hulle beurt is,” sê hy.

Die senior spanne het ook die byeenkoms gebruik om voor te berei vir die opkomende Goue Spele, oftewel Golden Games, ’n jaarlikse sport- en ontspanningsgeleentheid wat deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aangebied word vir senior burgers dwarsoor Suid-Afrika. Die doel is om aktiewe veroudering, gesondheid en samehorigheid te bevorder. Honderde deelnemers van al nege provinsies neem jaarliks deel, en dit sal vanjaar die eerste keer wees dat Atlantis se bejaardes gaan deelneem.

Aktiwiteite sluit atletiek, sokker, jukskei, ens in en dra by tot verbeterde stamina, verminderde stres, en ’n gevoel van waardigheid.

Die bejaardes het hulself terdeë geniet, en saamgestem dat dit ’n prettige dag was waarop hulle hulself kon vier, met opwindende aktiwiteite, speletjies, gemeenskapsgees en onvergeetlike oomblikke.

Foto’s van die dag (1 photo)

Click to expand